www.erries.co.za

Errie - Groen is die nuwe Goud

Thursday 26 July 2012

'n Hoof in 'n ander Klas!

Dit was vir Mooikrans Equus 'n wonderlike voorreg en eer om Hoërskool Ermelo se Woord-vir-Woord Kamp 2012 aan te bied. Dit is 'n jeuggroep wat weekliks bymekaar kom om die Bybel letterlik woord-vir-woord te bestudeer. Hulle is onder die bekwame en passievolle leiding van Mnr. Gustav Pohl.

Die betrokkenheid en passie van hierdie groep kinders het ons verstom. Ons haal ons hoed af vir julle entoesiasme en insig, dit is voorwaar wonderlik om te sien hoe julle die Woord van die Here toepas in julle daaglikse lewe. Baie dankie aan elkeen wat die kamp vir ons besonders spesiaal gemaak het, dit was vir ons lekker om tydens die lesings en aanbiedings te kan in sit en saam leer.

Julle het die koue trotseer en uitstekend perd gery, ons hoop dat julle die kamp nog vir lank sal onthou. Dankie vir elke Hoërskool Ermelo leerder se vriendelikheid en opregte maniere wat julle aan ons getoon het, dit is mense soos julle wat ons kampe op Mooikrans so wonderlik maak.

Nou kom ons by 'n ander saak wat ons verstom. Die hoof van Hoërskool Ermelo is 'n besondere mens met insig, wysheid, entoesiasme en 'n groot liefde vir die Here en sy skool. Mnr. Bok Martins se toewyding aan die skool en die kinders is verstommend. Mnr. Martins het laasjaar die Leierskamp gekanseleer en herskeduleer net sodat hy die kamp kan bywoon. Hy het oor die naweek vanaf die Cravenweek spesiaal terug gevlieg om die Woord-vir-Woord kamp by te woon. Dit is min dat 'n mens 'n hoof kry wat soveel aandag besteë aan 'n wye verskeidenheid aktiwiteite in sy skool.

Bowenal is Mnr. Martins plat op die aarde en opreg met alles wat hy sê. Ons het baie respek vir hom en koester ons vriendskap. Dit is vir ons 'n voorreg om deel te wees van Hoërskool Ermelo, ons sal hulle naam hoog hou oral waar ons kom en hulle ondersteun so ver ons kan.

Baie geluk met dit wat Mnr. Martins al gedoen het vir Hoërskool Ermelo in die kort tydjie wat u daar is, ons kyk uit vir julle in die toekoms!